Johannes 14:12

Voorwaar, voorwaar, Ek sê vir julle, wie in My glo - die werke wat Ek doen, sal hy ook doen; en hy sal groter werke doen as dit, omdat Ek na My Vader gaan.


Markus 16:17-18

En vir dié wat geglo het, sal hierdie tekens volg; in my Naam sal hulle duiwels uitdryf, met nuwe tale sal hulle spreek,

Slange sal hulle opneem; en as hulle iets dodeliks drink, sal dit hulle geen kwaad doen nie; op siekes sal hulle die hande lê, en hulle sal gesond word.



Almal van ons kan deur die Bybel blaai, en sien dat God wonders doen: Moses het die Skelfsee oopgemaak, Elía het ’n hongersnood uitgeroep, Jesus het op die water geloop en die dissipels het die siekes genees.

Daar is duisende wonderbaarlike gevalle in die Bybel opgeteken. As God getuig met tekens en wonders, waar is Sy wonderwerke vandag? Kan Hy kanker genees soos Hy melaatsheid genees het in die Bybel? Wat van VIGS of malaria? Kan Hy steeds ’n wonderwerk doen? Ja, God doen steeds wonderwerke en hierdie tekens volg dié wat glo.

Nou, kyk vriende, dink aan Koning George van Engeland, toe hy genees is van verspreide sklerose, toe ons vir hom gebid het. Dink aan Florence Nightingale, (haar ouma, die stigter van die Rooi Kruis), wat omtrent sestig pond geweeg het, daar op sterwe gelê het met ’n kanker op die dunderm van die maag, sterwend daar gelê het. ’n Duifie het daar in die bos ingevlieg en die Gees van God het gekom en gesê: “SO SPREEK DIE HERE, sy sal leef.” En sy weeg ’n honderd vyf-en-vyftig pond in blakende gesondheid.

Dink aan Kongreslid Upshaw wat gekluister gesit het aan stoele en bed vir jaar na jaar, vir ses-en-sestig jaar. En oombliklik op sy voete gekom het, deur die gebou gehardloop het, sy tone aangeraak het, geheel en al normaal en gesond gemaak is.

Dink net aan die duisende en duisende mense wat genees is. Waarom sit ons hier totdat ons sterf? Kom ons doen iets daaromtrent.

Hê geloof as jy siek of behoeftig is. Die Bybel sê Jesus Christus is dieselfde gister en vandag en tot in ewigheid, so as Hy in staat was om ’n wonderwerk tweeduisend jaar gelede te doen, dan is Hy in staat om vandag dieselfde te doen. Hy het ons beloof dat ons genees is, as ons net glo.

Kongreslid Upshaw

William D. Upshaw het agt jaar in die Verenigde State se Huis Van Verteenwoordigers gedien, en was ’n Presidentskandidaat in 1932. ’n Plaasongeluk het hom as kind verlam, en hy het 66 jaar óf op krukke, óf in ’n rolstoel, deurgebring. In 1951, is hy totaal genees en het die res van sy lewe volmaak geloop.

 
Florence Nightingale

Florence Nightingale, ’n verlangse familielid van die beroemde verpleegster, het terminale maagkanker gehad. Sy het hierdie foto as ’n laaste pleidooi vir gebed, gestuur voordat die kanker haar lewe uiteindelik sou neem. Soos jy kan sien, was sy op die rand van die dood voor die Here Jesus haar genees het in 1950. Die volgende foto is geneem na haar genesing en is ingestuur as ’n getuienis dat God steeds die siekes genees.


Tris Griffin

Tris Griffin het vroeg in 2013 na die dokter se spreekkamer gegaan as gevolg van rugpyn, wat sy gevrees het ’n hervatting kon wees van haar stryd met kanker. ’n MRI het ’n “aortiese disseksie” in haar hart aangetoon, wat tot gevolg gehad het dat dokters verdere toetse gedoen het en ’n noodoperasie die volgende dag geskeduleer het. Die lyn deur die hart in die afbeelding is ’n duidelike skeur wat ’n spoedige en amper gewisse dood sou beteken, indien dit sou oopskeur.

Die volgende dag, nadat gelowiges vir haar gebid het, het dokters nog ’n CT skandering gedoen om die ligging van die skeur te bepaal voor die operasie. Hierdie keer het die afbeeldings ’n heeltemal gesonde hart aangetoon. Verbysterd, het die snydokter vir Mev. Griffin gesê: “Ek weet nie wat om vir jou te sê nie. Jy het ’n aortiese disseksie gehad, maar nou is al die bewyse weg.” Hy het vir haar die afbeeldings gewys voor gebed, en toe daarna. “Jy is vry om te gaan, en terloops, daar is ook geen teken van kanker nie. Jy is blakend gesond.”

 

Die dokter se pyltjie wys na die aorta, wat die donker, sirkelvormige area in die middel van die figuur is. Die diagonale lyn wat daardeur loop is die aneurisme, of “disseksie” van die aorta, wat onmiddellike chirurgie vereis en noodlottig is, indien dit oopskeur. ’n Tweede skandering is die volgende dag gedoen. Die disseksie het heeltemal verdwyn en nooit weer teruggekeer nie.

Verwysings

Psalm 103:2-3

Loof die HERE, o, my siel, en vergeet geeneen van Sy weldade nie:

Wat al jou ongeregtighede vergewe, wat al jou krankhede genees;

Jesaja 53:5

Maar Hy is ter wille van ons oortredinge deurboor, ter wille van ons ongeregtighede is Hy verbrysel; die straf wat vir ons die vrede aanbring, was op Hom, en deur Sy wonde het daar vir ons genesing gekom.

Markus 16:17

En vir dié wat geglo het, sal hierdie tekens volg; in my Naam sal hulle duiwels uitdryf, met nuwe tale sal hulle spreek.

Lukas 17:6

En die Here sê: As julle geloof gehad het soos ’n mosterdsaad, sou julle vir hierdie moerbeiboom sê: Word ontwortel en in die see geplant - en hy sou julle gehoorsaam wees.

Johannes 14:12

Voorwaar, Voorwaar Ek sê vir julle, wie in My glo - die werke wat Ek doen, sal hy ook doen; en hy sal groter werke doen as dit, omdat Ek na My Vader gaan.

I Thessalonicense 1:5

Want ons Evangelie het tot julle nie gekom in woord alleen nie, maar ook in krag, en in die Heilige Gees en in volle versekerdheid, soos julle weet hoedanig ons onder julle om julle ontwil gewees het.

Hebreërs 2:3-4

Hoe sal ons ontvlug as ons so ’n groot saligheid verontagsaam wat, nadat dit eers deur die Here verkondig is, aan ons bevestig is deur dié wat dit gehoor het, terwyl God ook nog saam getuig het deur tekens en wonders en allerhande kragtige dade en bedelinge van die Heilige Gees volgens Sy wil?

Hebreërs 13:8

Jesus Christus is gister en vandag dieselfde en tot in ewigheid.

Jakobus 5:15

En die gebed van die geloof sal die kranke red, en die Here sal hom oprig. Selfs as hy sonde gedoen het, sal dit hom vergewe word.

I Petrus 2:24

Wat self ons sondes in Sy liggaam op die kruishout gedra het, sodat ons die sondes kan afsterwe en vir die geregtigheid lewe; deur wie se wonde julle genees is.