’n Profeet?



In die Bybel, het God altyd Sy Boodskap na die mense van die wêreld gebring deur ’n profeet van die tydperk. Hy het met Moses gepraat deur ’n brandende bos en hom die opdrag gegee om die Hebreërs uit Egipte te lei. Die sigbare Vuurkolom en ander tekens is gegee as bevestiging van sy bediening. Johannes die Doper het ’n Boodskap gebring om die wêreld voor te berei vir die Messias wat sou kom. Terwyl hy die Here Jesus gedoop het in die Jordaanrivier, het ’n Stem uit die Hemel Johannes se opdrag om die Lam van God bekend te stel, bevestig: “Dit is my geliefde Seun, in Wie Ek ’n welbehae het.” Jare daarna, is die Here se Stem weer gehoor soos Dit gespreek het met ’n profeet toe Hy met Paulus gepraat het deur ’n verblindende Lig, en later vir hom die opdrag gegee het om die kerke te orden. Dwarsdeur die Nuwe en Ou Testamente, het God nooit met Sy mense gepraat deur ’n denominasionele sisteem of ’n godsdienstige organisasie nie. Hy het altyd met die mense gepraat deur een man: Sy profeet. En Hy het hierdie profete bevestig deur bonatuurlike tekens.

Wat van vandag? Openbaar God steeds Sy Woord aan die profete? Is daar steeds bonatuurlike tekens? Sou God ’n moderne-dagse profeet die wêreld instuur? Die antwoord is ’n definitiewe: “Ja!”

Maar hoe sal ons weet wanneer ’n profeet opstaan? Hoe sal hy lyk? Hoe sal hy optree? Watter teken sal hy vir ons wys? Watter Skrifte sal hy vervul?

Die profete van ouds was dapper manne van God, en was nie bang om teen godsdienstige organisasies op te staan nie. In der waarheid, hulle was omtrent altyd teengestaan deur die geestelikes. Elía het die godsdienstige organisasies van sy dag uitgedaag, deur hulle te vra of God hulle offerhandes sou respekteer, of syne. Hulle het geskree. Hulle het geprofeteer. Hulle het op die altaar gespring. Hulle het hulleself met messe gesny. Maar God het hulle nie gehoor nie. Elía het opgekyk na die Hemel en gesê: “Laat dit vandag bekend word dat U God in Israel is, en ek U kneg, en dat ek al hierdie dinge op U Woord gedoen het.” Toe het hy vuur afgeroep uit die Hemel om die offer te verteer. Miga die profeet, het die Koning van Israel, en die hele priesterdom, weerstaan, toe hy die Hoëpriester Sedékia bestraf het omdat hy ’n leuen geprofeteer het. Die Hoëpriester het hom in die gesig geslaan en die Koning het hom opgesluit omdat hy die waarheid gepraat het. Selfs die Here Jesus is so gehaat deur die godsdienstige organisasies van Sy dag dat hulle Hom langsaan die ergste misdadigers gekruisig het. As die geskiedenis waar is, sou ’n profeet gehaat word deur die moderne denominasionele sisteem, en hy sou as ’n ketter, vals profeet, of erger, bestempel word. Maar God sou by Sy dienaar staan.

As daar ’n profeet in hierdie moderne dag was, hoe sou hy aanvaar word deur die Katolieke Kerk? Die Baptiste Kerk? Die Lutherse Kerk? Enige denominasie?

Die Here Jesus het almal wat Hom glo, opdrag gegee: “En vir dié wat geglo het, sal hierdie tekens volg: in my Naam sal hulle duiwels uitdryf, met nuwe tale sal hulle spreek, slange sal hulle opneem, as hulle iets dodeliks drink, sal dit hulle geen kwaad doen nie; op siekes sal hulle die hande lê, en hulle sal gesond word.” (Markus 16:17-18). Is hierdie Skrif waar vandag? As dit nie waar is nie, wanneer het die Woorde van die Here verstryk? Dwarsdeur die Bybel, was die profete in staat om die siekes te genees, duiwels uit te dryf, en wonderwerke te doen. Moses het die koperslang voor die mense van Israel opgerig om hulle te genees van die byte van giftige slange (Númerí 21:9). Naäman, ’n magtige Siriër, het na Elisa toe gekom om genees te word van melaatsheid (II Konings 5:9). Toe ’n jong man hom doodgeval het uit ’n bo-venster, het die apostel Paulus hom omhels en lewe na die dooie liggaam laat terugkeer (Handelinge 20:10). Ons het net ’n rekord van omtrent 3½ jaar van ons Here Jesus se lewe, maar gedurende daardie paar jaar, het Hy voortdurend die siekes genees. Die blindes kon weer sien. Die melaatse is genees. Die dowes het hulle gehoor ontvang. Die verlamdes het geloop. Elke soort siekte is genees (Matt 4:23).

God het ook sy profete op ander maniere as genesings bevestig. Selfs die bes bewaarde geheime van die hart is bekend gemaak aan hierdie manne van God. Koning Nebukadnésar het ’n verontrustende droom gehad, maar hy kon nie onthou waaroor dit gegaan het nie. Die profeet Daniël het vir die koning beide die droom en die profesie, wat daarop gevolg het, vertel (Daniël 2:28). Niks was van Salomo verberg toe die koningin van Skeba voor hom verskyn het nie. Hy was so Geesvervuld dat hy vir haar die vrae van haar hart vertel het voordat sy hulle gevra het (I Konings 10:3). Elisa het vir die Koning van Israel al die planne van die Koning van Sirië vertel, selfs tot die privaat woorde wat in sy slaapkamer gespreek is (II Konings 6:12).

Deur Sy eie aksies, het die Here Jesus dikwels gewys dat hierdie Gees van onderskeiding die Gees van Christus is. Hy het Natánael se geaardheid onderskei toe Hy gesê het: “Hier is waarlik ’n Israeliet in wie daar geen bedrog is nie.” En Jesus het voortgegaan om vir Natánael te vertel waar hy was toe Filippus vir hom vertel het van die Messias (Johannes 1:48). Toe Natánael gesien het Jesus ken sy hart, het hy hom onmiddellik herken as die Christus. Die eerste keer toe Jesus vir Petrus gesien het, het Hy vir hom sy vader se naam gesê, Jona (Johannes 1:42). Toe het Petrus alles verlaat en Jesus vir die res van sy lewe gevolg. Jesus het die Samaritaanse vrou by die put ontmoet en haar van haar vorige sondes vertel. Haar eerste woorde was: “Here, ek sien dat U ’n profeet is” (Johannes 4:19). Al drie hierdie mense was uit verskillende lewensomstandighede, tog het hulle Jesus onmiddellik herken toe Hy die gawe van onderskeiding getoon het.

Het hierdie gawe verdwyn toe die laaste bladsy van die Bybel geskryf is? As hierdie wonderwerke so duidelik in die Bybel geskryf is, waar is hulle vandag? ’n Moderne-dagse profeet sou beslis bevestig wees deur wonderwerke.

Het God Sy mense vergeet? Is Hy nog in staat om die siekes te genees? Praat Hy nog met ons deur Sy profete? Het enige van die profete hierdie dag vooraf gesien?

Is daar profesieë wat nog vervul moet word?