Die Vuurkolom



Broer Branham beskryf dikwels ’n Vuurkolom wat sy bediening bevestig het. Dit was teenwoordig by sy geboorte, was gesien deur duisende op die oewer van die Ohiorivier, en het hom blykbaar oral gevolg waar hy gegaan het. Dit was in 1950, dat die Here vir beide gelowiges en ongelowiges ’n onfeilbare bewys gegee het, dat hierdie Vuurkolom die profeet vergesel het.

Die aand was gehul in polemiek by die Sam Houston Kollisseum. Broer Branham het ’n genesingsherlewing gelei wat deur die land getrek het. Die seëninge van die Here Jesus het uitgestort soos reën op die geestelike koringvelde. Maar die groot tekens en wonders het nie sonder kritiek gekom nie. Soos altyd het die vyand ’n teenstaander opgerig. Die twee magte het ontmoet by Houston Texas, en die Engel van die Here het Self afgekom om die stryd te stry.

Duisende was alreeds teenwoordig om die ontelbare wonderwerke te aanskou wat hierdie man van God gevolg het. ’n Dag tevore, het ’n groep plaaslike pastore die profeet uitgedaag tot ’n debat oor Goddelike genesing, maar die uitdaging het gegaan na die profeet se getroue ou metgesel, Eerwaarde F. F. Bosworth. Die vele skeptici was gelei deur ’n plaaslike Baptiste predikant en uitgesproke kritikus van Goddelike genesing. Die opkomende debat is uitgelek na die koerante, wat spoedig die hoofopskrifte gepubliseer het: “Die Teologiese Hare Sal Waai Om 7 nm. Vandag In Die San Houston Kollisseum.”

Die skeptikus het ’n professionele fotograaf gehuur, Ted Kipperman van Douglas Ateljees, om die debat te dokumenteer. Daardie aand, is die foto’s geneem hoofsaaklik met Broer Bosworth wat sedig staan terwyl die skeptikus poseer in intimiderende posisies; eenkeer met sy vinger in die nederige ou man se gesig gedruk.

Toe die debat begin het, het Eerwaarde Bosworth gou die sekerheid van Goddelike genesing bewys met Skriftuurlike bewyse en toe, om geen vraag oor te laat nie, gevra dat almal wat genees is van hulle swakhede, moes opstaan. Duisende het opgestaan. Nadat diegene wat genees is, hulle sitplekke ingeneem het, het hy gevra of almal wat deur Goddelike genesing genees is, wat goeie lidmate was van hierdie man se denominasie, sou opstaan. Driehonderd kerklidmate het opgestaan om trots die genade te toon wat die Here Jesus aan hulle bewys het.

Toe het die uitdaging van die skeptikus gekom: “Laat daardie Goddelike geneser uitkom. Laat hom optree.” Broer Bosworth het dit duidelik gemaak dat Jesus die enigste Goddelike Geneser was, maar die grootpratery van die skeptikus het voortgegaan. Uiteindelik, het Broer Bosworth vir Broer Branham na die platvorm genooi. Hy het die uitnodiging aanvaar onder uitroepe van ondersteuning.

Die profeet, gevul met die Heilige Gees, het die volgende antwoord gegee:

Ek kan niemand genees nie. Dit sê ek wel, toe ek ’n babatjie was, gebore in die Staat van Kentucky, volgens my eie dierbare moeder, en wat bevestig is deur my lewe, was daar ’n Lig wat in die kamer van daardie ou gehuggie ingekom het, waar dit was, geen vloer daarin nie, het nie eens ’n venster gehad nie, hulle het net ’n ou dingetjie vir ’n venster daar gehad, soos ’n deurtjie, en hulle het dit oopgedruk omtrent vyfuur in die môre, en hierdie Lig het ingesirkel net toe die dag gebreek het. Van daardie tyd af, het Dit my vergesel. Dis ’n Engel van God. Hy het my persoonlik ontmoet ’n paar jaar gelede. Regdeur my lewe, het Hy vir my dinge vertel wat gebeur het, en ek het hulle vertel net soos Hy my vertel het. En ek daag enigiemand uit op enige plek, om na die stad te gaan waar ek grootgeword het, of enige ander plek, wat ’n stelling ooit gemaak is in die Naam van die Here, behalwe wat presies gebeur het soos dit gesê het dit sou.

Na hy hierdie woorde gesê het, het die Heilige Gees op die platvorm geval, en die opgewonde fotograaf het ’n foto geneem. Broer Branham het die platvorm verlaat met ’n eenvoudige, dog profetiese stelling: “God sal getuig. Ek sal nie meer sê nie.”

Mnr. Kipperman se assistent het vinnig aan die werk gespring om die negatiewe te ontwikkel vir die volgende oggend se nuus. Hy het iets vreemds opgelet toe hy die eerste foto uit die ontwikkelingsoplossing gehaal het. Dit, soos die volgende vyf foto’s, was leeg. Hy het sy hart vasgegryp en vorentoe geval toe hy die laaste afdruk uit die oplossing haal. Daar, op daardie laaste foto, was die Vuurkolom in sigbare vorm wat rus oor die hoof van God se profeet, William Marrion Branham.

Die kinders van Israel het die Vuurkolom gesien wat Moses lei, en die mense van hierdie moderne dag het daardie selfde Vuurkolom gesien wat nog ’n profeet lei.

Die foto is gou gegee aan George J. Lacy, Professionele Ondersoeker van Bevraagtekende Dokumente vir die V.S. F.B.I., wat die foto bekragtig het met sy deskundige opinie. Die amptelike dokument, uitgereik deur Mnr. Lacy is op die volgende bladsy.

Dit was lank voor rekenaars of digitale kameras, en kan nie verduidelik word deur enige metodes wat aan die wetenskap bekend is, behalwe dat daar ’n werklike Lig was bo die kop van William Branham nie. Vandag kan daardie selfde foto gesien word in die Verenigde State se Kongresbiblioteek, in die volk se hoofstad, Washington DC.