Die Jonger Jare - Vervolg



Dit het donkerder geword in die hospitaalkamer, asof dit in ’n groot woud was. Ek kon die wind deur die blare hoor waai, tog het dit gelyk asof dit ver weg in die bos was. Jy het miskien al gehoor hoe ’n windvlaag die blare waai, net nader en nader na jou toe kom. Ek het gedink: “Wel, dis die dood wat my kom haal.” O! my siel sou God ontmoet. Ek het probeer bid, maar kon nie.

Die wind het nader gekom, harder en harder. Die blare het geruis en meteens, was ek weg.

Dit was toe asof ek weer terug was as ’n klein kaalvoet-seuntjie, wat in die laning staan onder daardie selfde boom. Ek het daardie selfde Stem gehoor wat gesê het: “Moet nooit drink of rook nie.” En die blare wat ek gehoor het, was dieselfde wat daardie dag in daardie boom gewaai het.

Maar hierdie keer het die Stem gesê: “Ek het jou geroep en jy wou nie gaan nie.” Dit het die derde keer herhaal.

Toe het ek gesê: “Here, as dit U is, laat my weer aarde toe gaan, en ek sal U Evangelie verkondig vanaf die dakke en straathoeke. Ek sal almal daarvan vertel!”

Toe die gesig verby was, het ek gevind dat ek nog nooit beter gevoel het nie. My dokter was steeds in die gebou. Hy het gekom en na my gekyk en was verbaas. Hy het gelyk asof hy gedink het ek sou dood wees, toe het hy gesê: “Ek is nie ’n kerkganger nie, my praktyk is so groot, maar ek weet God het hierdie seun besoek.” Hoekom hy dit gesê het, weet ek nie. Niemand het enigiets daarvan gesê nie. As ek toe geweet het wat ek nou weet, sou ek opgestaan het uit daardie bed en uitgeroep het Prys Sy Naam.

Na ’n paar dae was ek toegelaat om huis toe te gaan, maar ek was steeds siek en was gedwing om ’n bril op my oë te dra as gevolg van astigmatisme. My kop het gebewe as ek na enigiets gekyk het vir ’n oomblik.

Ek het begin soek om God te vind. Ek het van kerk tot kerk gegaan, om ’n plek te vind waar daar ’n outydse altaaroproep was. Die hartseer deel is dat ek geen kon vind nie.

Ek het gesê as ek ooit ’n Christen sou wees, sou ek regtig een wees. ’n Prediker wat my daardie opmerking hoor maak het, het gesê: “Nou, Billy seun, jy raak fanaties.” Ek het gesê as ek ooit godsdiens sou ontvang, wou ek dit voel wanneer dit kom, net soos die dissipels het.

O prys Sy Naam. Ek het later godsdiens ontvang en ek het dit steeds, en met Sy hulp, sal dit altyd hou.

Een aand het ek so gehonger na God en ’n ware ondervinding dat ek uitgegaan het na die ou skuur aan die agterkant van die huis en probeer bid het. Ek het nie toe geweet hoe om te bid nie, so ek het net begin praat met Hom soos ek sou met enigiemand anders. Skielik het daar ’n Lig in die skuur ingekom en dit het ’n kruis gevorm en die Stem het uit die kruis met my gepraat in ’n taal wat ek nie kon verstaan nie. Dit het toe weggegaan. Ek was in verrukking. Toe ek weer by myself kom, het ek gebid: “Here, as dit U is, kom asseblief en praat weer met my.” Ek het my Bybel gelees vandat ek tuisgekom het van die hospitaal en ek het gelees in I Johannes 4: “Geliefdes, glo nie elke gees nie, maar stel die geeste op die proef of hulle uit God is.”

Ek het geweet ’n gees het aan my verskyn en terwyl ek gebid het, het dit weer verskyn. Toe was dit vir my asof ’n duisend pond van my siel afgelig is. Ek het opgespring en na die huis toe gehardloop en dit was asof ek in die lug gehardloop het.

Moeder het gevra: “Bill, wat het met jou gebeur?” Ek het gesê: “Ek weet nie, maar ek voel beslis goed en lig.” Ek kon nie langer in die huis bly nie. Ek moes uitgaan en hardloop.

Ek het toe geweet as God wou hê ek moet preek, dat Hy my sou genees. So ek het na ’n kerk toe gegaan wat geglo het in salf met olie en ek is onmiddellik genees. Ek het toe gesien dat die dissipels iets gehad het wat die meeste van die predikers nie vandag het nie. Die dissipels is gedoop met die Heilige Gees en kon dus die siekes genees en magtige werke doen in Sy Naam. So ek het begin bid vir die doping van die Heilige Gees en dit ontvang.

Eendag, omtrent ses maande later, het God my die begeerte van my hart gegee. Hy het met my gepraat in ’n groot Lig, en vir my gesê om te gaan preek en vir die siekes te bid en Hy sou hulle genees ongeag watter siekte hulle gehad het. Ek het begin preek en doen wat Hy vir my gesê het om te doen. O vriend, ek kon nie begin om vir jou te vertel wat alles gebeur het nie. Blinde oë het oopgegaan. Die verlamdes het geloop. Kankers is genees, en allerhande wonderwerke is gedoen.

Eendag aan die onderpunt van Springstraat, Jeffersonville, Indiana, na ’n twee-week-lange herlewing, het ek 130 mense gedoop. Dit was ’n warm dag in Augustus en daar was omtrent 3000 mense teenwoordig. Ek was gereed om die 17de persoon te doop toe ek meteens weer daardie stil, klein Stemmetjie hoor en dit het gesê: “Kyk op.” Die lug was soos koper op daardie warm dag in Augustus. Ons het nie enige reën gehad vir omtrent drie weke nie. Ek het weer die Stem gehoor, en toe weer die derde keer het dit gesê: “Kyk op.”

Ek het opgekyk en daar het uit die lug ’n groot helder ster gekom, wat ek baiekeer vantevore gesien het, maar waarvan ek jou nie vertel het nie. Baiekeer het ek mense vertel dat dit verskyn het en hulle sou net lag en sê: “Bill, jy verbeel jou dit net. Of miskien het jy gedroom.” Maar prys God, hierdie keer het Hy Homself sigbaar gemaak aan almal, want dit het so na aan my gekom dat ek nie eens kon praat nie. Na ’n paar sekondes verbygegaan het, het ek geskree en baie mense het opgekyk en die ster net bokant my gesien. Party het flou geword terwyl ander geskree het en ander weggehardloop het. Toe het die ster weer opgegaan in die lug en die plek waarvandaan dit vertrek het, was omtrent vyftien vierkante voet en hierdie plek het aanhou beweeg en kolk asof branders gerol het. Daar het in hierdie plek ’n wit wolkie gevorm en die ster is opgeneem in hierdie wolkie.

Soos Johannes die Doper, is die profeet bevestig in die Doopwaters.