Die Jonger Jare



Dwarsdeur die lewe, het Broer Branham gesmag om in die wildernis te wees. Op die ouderdom van 18, het hy Indiana verlaat vir die ruwe westelike berge. Sy verblyf in Arizona het nie lank geduur voordat hy geforseer was om terug te keer nie.

Eendag het ek besluit ek het ’n manier gekry om ontslae te raak van daardie roeping. Ek het na die weste gegaan om te werk op ’n beesplaas. Vriend, God is net so groot daar as wat Hy enige plek is. Mag jy baat vind uit my ondervinding. Wanneer Hy jou roep, antwoord Hom.

Een Septembermôre in die jaar 1927, het ek vir moeder gesê ek gaan kamp by Tonnel Meul, wat omtrent veertien myl van Jeffersonville af is, waar ek daardie tyd gewoon het. Ek het alreeds ’n reis beplan saam met ’n paar vriende na Arizona. Toe moeder weer van my gehoor het, was ek nie by Tonnel Meul nie, maar in Phoenix, Arizona, besig om weg te hardloop van die God van Liefde. Die plaaslewe was baie goed vir ’n tydjie, maar die het gou oud geword, soos enige plesier van die wêreld. Maar mag ek hier sê, prys God, dat die ondervinding met Jesus, deurentyd soeter en soeter raak en nooit oud raak nie. Jesus gee altyd volmaakte vrede en vertroosting.

Baiekeer het ek die wind deur die hoë bome hoor waai. Dit was amper asof ek Sy Stem ver buite in die woud kon hoor roep, wat sê: “Adam, waar is jy?” Die sterre het gelyk asof hulle so naby was dat jy hulle kon pluk met jou hande. God was skynbaar so naby.

Een ding van daardie gebied, is die paaie in die woestyn. As jy ooit die pad byster raak, raak jy so gou verdwaal. Soveel toeriste sien klein woestynblommetjies en gaan van die hoofweg af om hulle te pluk. Hulle dwaal af in die woestyn en raak verlore en gaan partymaal dood van die dors. So is dit op die Christenweg - God het ’n hoofweg. Hy praat daarvan in Jesaja, 35ste hoofstuk. Dit word die “Grootpad van Heiligheid” genoem. Baiemaal laat klein plesiertjies van die wêreld jou van die grootpad afgaan. Dan het jy jou ondervinding met God verloor. Wanneer jy verlore is in die woestyn, verskyn daar partymaal ’n lugspieëling. Vir diegene wat sterf van die dors, sal die lugspieëling ’n rivier of ’n meer wees. Baiemaal hardloop mense agter hulle aan en val in hulle, net om te vind hulle swem net in warm sand. Partymaal wys die duiwel vir jou iets wat hy sê ’n lekker tyd is. Dit is net ’n lugspieëling, dit is iets wat nie werklik is nie. As jy luister, sal jy net jouself bevind waar jy droefheid oor jou bring. Moenie na hom luister nie, liewe leser. Glo Jesus wat vir jou lewende water gee vir hulle wat honger en dors.

Eendag het ek ’n brief van die huis af gekry wat vir my gesê het een van my broers was baie siek. Dit was Edward, die een na my. Natuurlik het ek nie gedink dit was ernstig nie, so ek het gedink hy sal regkom. Maar een aand, ’n paar dae later, toe ek van die stad afgekom het, toe ek deur die eetsaal van die plaas stap, het ek ’n papier op die tafel gesien. Ek het dit opgetel. Dit het gelui: “Bill, kom buite na die noordelike weiveld. Baie belangrik.” Na ek die nota gelees het, het ek en ’n vriend uitgestap na die weiveld. Die eerste persoon wat ek ontmoet het, was ’n ou Eenster beeswagter wat op die plaas gewerk het. Sy naam was Durfy, maar ons het hom “Pop” genoem. Hy het ’n treurige uitdrukking op sy gesig gehad terwyl hy gesê het: “Billy seun, ek het slegte nuus vir jou.” Op daardie tydstip het die voorman nadergestap. Hy het vir my gesê ’n telegram het pas gearriveer, wat my gesê het van die dood van my broer.

Liewe vriend, vir ’n oomblik kon ek nie beweeg nie. Dit was die eerste dood in die familie. Maar ek wil sê die eerste ding waaraan ek gedink het, was of hy gereed was om te sterf. Soos ek omgedraai en oor die geel grasvlakte gekyk het, het trane teen my wange afgeloop. Hoe ek onthou het hoe ons saam gesukkel het toe ons seuntjies was en hoe swaar dit vir ons was.

Ons het skool toe gegaan met skaars genoeg om te eet. Die tone was uit ons skoene en ons moes ou jasse dra wat vasgesteek was by die nek omdat ons geen hemde aangehad het nie. Hoe ek ook onthou het dat Moeder eendag ’n bietjie springmielies in ’n emmertjie gehad het vir middagete. Ons het nie saam met die res van die kinders geëet nie. Ons kon nie kos bekostig soos hulle s’n nie. Ons het altyd oor die heuwel geglip en geëet. Ek onthou die dag toe ons springmielies gehad het, het ons gedink dit is ’n ware lekkerny. So om seker te maak ek kry my deel daarvan, het ek voor twaalfuur uitgegaan en ’n goeie handvol geneem voor my broer syne gekry het.

Toe ek daar gestaan en kyk het na die son-gebakte grasvlakte, het ek gedink aan al daardie dinge en gewonder of God hom na ’n beter plek geneem het. Toe het God my weer geroep, maar soos gewoonlik, het ek dit probeer beveg.

Ek het gereed gemaak om huis toe te kom vir die begrafnis. Toe Eerw. McKinny van Port Fulton Kerk, ’n man wat net soos ’n vader vir my is, sy begrafnis gepreek het, het hy genoem dat “Daar miskien sommige hier is wat God nie ken nie, indien wel, aanvaar Hom nou.” O hoe het ek my sitplek vasgegryp, God het weer gewerk. Liewe leser, wanneer Hy roep, antwoord Hom.

Ek sal nooit vergeet hoe arme ou Pa en Ma gehuil het na die begrafnis nie. Ek wou weer Weste toe gaan, maar Ma het so hard by my gepleit om te bly, dat ek uiteindelik toegestem het om te bly as ek werk kon kry. Ek het gou ’n werk gekry by die Openbare Werke Maatskappy van Indiana.

Omtrent twee jaar later, aan die meters toets in die meterwinkel by die Gas Werke in New Albany, is ek deur gas oorval en het vir weke daaraan gely. Ek het na al die dokters toe gegaan wat ek geken het. Ek kon geen verligting kry nie. Ek het aan ’n suur maag gely, wat deur die effek van die gas veroorsaak is. Dit het die heeltyd erger geword. Ek is na die spesialiste in Louisville, Kentucky toe geneem. Hulle het uiteindelik gesê dit was my blindederm en gesê ek moet ’n operasie ondergaan. Ek kon dit nie glo nie, want ek het nooit ’n pyn in my sy gehad nie. Die dokters het gesê hulle kon nie meer vir my doen totdat ek die operasie gehad het nie. Eindelik het ek toegestem dat dit gedoen word, maar aangedring dat hulle ’n lokale verdowing gebruik, sodat ek die operasie kon dophou.

O, ek wou hê iemand moes by my staan wat God geken het. Ek het in gebed geglo, maar kon nie bid nie. So, die predikant van die Eerste Baptiste Kerk het saam met my na die operasiesaal gegaan.

Toe hulle my van die tafel na die bed geneem het, het ek gevoel hoe ek die heel-tyd swakker en swakker word. My hart het skaars geklop. Ek het die dood op my gevoel. My asem het die heeltyd korter geword. Ek het geweet ek het die einde van die pad bereik. O vriend, wag tot jy eenkeer daar kom, dan sal jy aan baie dinge dink wat jy gedoen het. Ek het geweet ek het nooit gerook, gedrink of enige vuil gewoontes gehad nie, maar ek het geweet ek was nie gereed om my God te ontmoet nie.

My vriend, as jy net ’n koue, formele kerklidmaat is, sal jy weet as jy die einde bereik, dat jy nie gereed is nie. So as dit al is wat jy van my God weet, vra ek jou net hier om op jou knieë te gaan en Jesus te vra om jou daardie ondervinding van wedergeboorte te gee, soos Hy vir Nikodémus gesê het in Johannes hoofstuk 3, en o hoe die vreugdesklokke sal lui. Prys Sy Naam.