Die Begin



“Toe ek gebore is in ’n klein Kentucky hutjie daarbo, het die Engel van die Here by die venster ingekom en daar gestaan. Daar was ’n Vuurkolom.”

Die dag het pas begin breek deur die duisternis van die koel Aprilhemel. Die enkele houtvenster het opgelig om die oggendlig in die klein eenkamer-hutjie in te laat. ’n Rooiborsie wat langs die venster gestaan het, was blykbaar veral opgewonde vanmôre, en het uit volle bors gesing. Aan die binnekant van die hutjie, het ’n jong Charles Branham sy hande in sy oorpaksakke gesteek en afgekyk op sy 15jarige vrou. “Ons sal sy Naam William noem,” het die vader gesê.

’n Bonatuurlike Lig het by die venster ingekom. Die Lig het deur die kamer beweeg en oor die bed gehang waar die baba pas gebore is. Dit was dieselfde Lig wat die Hebreeuse kinders uit Egipte gebring het. Dit was dieselfde Lig wat Paulus ontmoet het op die pad na Damaskus. En dit sou voortgaan om hierdie babatjie te lei om ’n Bruid vir Christus uit die wêreld te roep. Daardie Lig was niks anders as die Engel van die Here, die Vuurkolom, nie; en Dit het weer verskyn aan die mense.

En daarbinne, in hierdie houtpaalhutjie, daardie oggend op die 6de April, het die vroedvrou die venster oopgemaak, sodat die lig kon inskyn om vir Mamma en Pappa te wys hoe ek gelyk het. Toe het ’n Lig omtrent die grootte van ’n kussing deur die venster gewarrel. Dit het gesirkel om my waar ek was, en afgegaan op die bed. Verskeie van die bergbewoners het daar gestaan. Hulle het gehuil.

Die nederige huis was in die heuwels van Suid-Kentucky, naby die klein dorpie van Burkesville. Die datum was 6 April 1909. Die baba was die eerste van tien kinders wat gebore sou word vir Charles en Ella Branham.

Dit was nie lank voor die Engel van die Here weer vir jong William Branham sou besoek nie.

Toe hy ’n kind was, het die Engel van die Here die eerste keer met hom gepraat, en gesê dat hy naby ’n stad genaamd New Albany sou woon. Hy het in die huis ingegaan en vir sy ma vertel wat pas gebeur het. Soos enige ma, het sy nie veel van die storie gedink nie en hom in die bed gesit om sy jong senuwees te kalmeer. Twee jaar later, het sy familie getrek na Jeffersonville, Indiana, net ’n paar myl vanaf die suidelike Indiana stad van New Albany.

Die Engel het ’n paar jaar later weer met die jong profeet gepraat. Dit was ’n stil Septemberdag met die warm son wat deur die kleurvolle herfsblare geskyn het. Die seuntjie het mank geloop terwyl hy twee emmers water in die paadjie afdra. ’n Mieliestronk was onder sy beseerde toon vasgemaak om dit uit die stof te hou. Hy het gaan sit om te rus in die skadu van ’n hoë populierboom. Die trane het afgeloop soos hy gehuil het oor sy teenspoed: Sy vriende het hulleself geniet by die plaaslike visvanggat, en hy moes bly om water vir sy pa aan te dra. Skielik, het ’n wind begin warrel in die boom bo hom. Hy het sy oë afgevee, en opgestaan. Hy het die geluid gehoor van blare wat waai in die wind…maar daar was geen wind nie. Hy het opgekyk en omtrent halfpad op in die populierboom, het iets die droeë blare gewarrel.

Meteens het ’n Stem gepraat: “Moenie drink of rook of jou liggaam op enige manier besoedel nie, daar is ’n werk vir jou om te doen wanneer jy ouer word.” Die bang sewe-jarige seun het sy emmers laat val en na sy ma toe gehardloop.

Soos die profeet Samuel, het God weer met ’n kind gepraat.

’n Paar weke later, het hy albaster gespeel saam met sy jonger broer. ’n Vreemde gevoel het oor hom gekom. Hy het uitgekyk oor die Ohiorivier en ’n pragtige brug gesien. Sestien mans het hulle doodgeval soos die brug oor die rivier gespan het. Die jong profeet het sy eerste gesig gesien. Hy het sy ma vertel, en sy het sy storie neergeskryf. Jare later, het 16 mans hulle doodgeval terwyl die Tweedestraat Brug in Louisville, Kentucky, gebou is oor die Ohiorivier.

Die Here het hom gesigte gewys van die toekoms. En soos profete voor hom, het die gesigte nooit gefaal nie.